Hondehotel behandel woef soos koninklike

Hondehotel behandel woef soos koninklike

doghotel-24netwerk

’n Nuwe hotel het sy deure in die Kaap oopgemaak, maar jy kan net hier kom bly as jy vierpotig is én jy kan blaf.

Die atFrits-hondehotel, in die hartjie van Kaapstad, het op 1 Desember oopgemaak. Dié hotel, wat ook ’n honde-dagsorg is, spog met hotelkamers soos Jurassic Bark, K9 Nkandla en Hollywoof. Dié kamers is toegerus met ’n platskermtelevisie, ’n bed, speelgoed en kos.

doghotel-24netwerk2

Met Netwerk24 se besoek aan die hotel, net voor Nuwejaarsdag, bly daar 36 vierpotige-gaste.

Honde-eienaars kan uit drie pakkette kies.

Die ‘Doggy Dormitory’ (kamer waar klomp honde saam bly) sal vir een aand se oorslaap jou R250 kos. Die ‘Deluxe’ (private kamer met ’n bed en ’n unieke tema) sal R350 kos en die ‘Platinum Suite’ (die beste linne en toegerus met platskermtelevisie) sal jou R500 kos.

Die honde word ook daagliks vir ’n stappie De Waal-park toe geneem. Daar is ook speelhokke waar die honde met mekaar kan speel. In elke speelhok sit daar hondehanteerders wat ’n ogie hou.

doghotel-24netwerk3

“ALLE HONDE MOET DIESELFDE BEHANDEL WORD. OF JY UIT ’N ARM HUISHOUDING KOM OF UIT ’N WELGESTELDE EEN. ONS KYK NA ALMAL EN ALMAL IS ENIGE TYD WELKOM”

“Ek het grootgeword met honde. Ek wou aanvanklik ’n veearts word. Die dag toe ek sien hoe hulle my hond se koors meet het ek flou geval en dit was die einde van daardie droom,” lag Yanic Klue, eienaar van atFrits-hondehotel.

Klue wat nog altyd ’n voorliefde vir beginnerondernemings gehad het, se idee vir die hondehotel het reeds in 2010 begin. Terwyl sy haar MBA in Stellenbosch voltooi het, het sy ’n nuusbrief van Springwise ontvang. Dié webblad kyk na die wêreld se jongste neigings en hier het die Sniff-hondehotel in Amerika Klue se oog gevang.

“Ek het dadelik vir my klasmaat gesê dat ek ook eendag ’n hondehotel gaan besit. Hy het natuurlik gedink ek is mal.

“Vyf jaar later is die droom verwesenlik en die opsie om franchises te koop is reeds daar. Table View, Dubai …”sê Klue.

Klue benadruk wel dat die hondehotel nie net vir rykes is nie.

“Alle honde moet dieselfde behandel word. Of jy uit ’n arm huishouding kom of uit ’n welgestelde een. Ons kyk na almal en almal is enige tyd welkom,” sê Klue.

doghotel-24netwerk4

Sien video: https://youtu.be/-HgywbjqnKI

 

Geplaas op: Netwerk24